Corner
Corner

Wie is Lollos

Lollos! bied fantastiese en unieke vermaak vir kinders in Afrikaans. Saam met Alta Joubert en Minki Burger maak die vriendelike karakter van Lalaland seker kinders oor die hele land word sommer lekker fiks! In Lollos 3 maak ‘n ‘funky’ karakter, Disco ook sy verskyning. Gedurende hul lewendige vertonings word daar saam gedans en boonop leer die kleinspan natuurlik ook altyd iets op ‘n prettige manier.

Die Lollos span het in 2011 ‘n SAMA toekenning gewen vir hul tweede CD, Bons dat dit gons! so jy kan seker wees dat jou kind na die beste kwaliteit Afrikaanse musiek luister.

Alta en Minki is albei ma’s en die twee het besluit daar is net nie genoeg moderne, kleurvolle en aktiewe vermaak vir hul kinders in Afrikaans nie. So het Lollos in 2008 ontstaan met die uitreiking van hul eerste CD. Die liedjies op die CD’s, DVD’s en vertonings is vrolik en ‘funky’ en oud en jonk sal beslis nie stil sit gedurende die opgewekte musiek nie. Daar word natuurlik ook altyd iets geleer aan die kleinspan: ABC, tel, dae van die week, gesond eet en herwin is maar net van die temas.

Die DVD, Lollos 1: My naam is Lollos! is vroeg in 2009 uitgereik. Die tweede DVD, Lollos 2: Bons dat dit Gons! (met gaskunstenaar Emo Adams) is in 2010 uitgereik en het in net bietjie meer as 2 maande Goue Status bereik!

Hul derde CD, Boem Boem, ons gaan Groen! is gedurende April 2011 uitgereik en die DVD met dieselfde titel het in Oktober 2011 verskyn. Groot opwinding is dat Robbie Wessels en Nianell die gaskunstenaars is! Gedurende die liedjie, Skoert Vlieg! maak Robbie seker alle grillerige goggas vat sommer gou die pad. Nianell sing ‘n pragtige wiegelied, Mamma’s lief vir jou en haar drieling verskyn saam met haar op die DVD. Die CD en DVD die kleinspan leer om die Aarde mooi op te pas, te herwin, nie rommel te strooi nie en elektrisiteit en water te bespaar – maar natuurlik altyd op ‘n prettige (en danserige!) manier.

Daar is ook ‘n pragtige boek, Lollos se vlerke, beskikbaar vir ywerige lesertjies. En die maatjies kan seker maak Lollos gaan orals saam met hulle deur ‘n Lollos sagte speelding aan te skaf. Wys vir almal jy is die grootste aanhanger deur jou pragtige Lollos T-hemp te dra. Lettie poppe het ook sopas hul verskyning gemaak! Sy is pragtig groen en pienk met die fraaiste rooi strikkies om haar ore.

Lollos vertonings is uiters gewild en boonop byna altyd uitverkoop.

 

Ontmoet Lollos se maats:

 

Liefdadigheid:

Ons is so ontsettend geseënd met hierdie wonderlike projek, Lollos, wat ons in 2008 begin het.

Dit is egter ook vir ons belangrik om terug te gee aan die gemeenskap. Van die werk wat ons doen sluit die volgende in:

Ons ondersteun gereeld Little Figthers Cancer Trust (www.littlefighters.org.za). Die organisasie doen wonderlike werk vir kinders met kanker en hulle families.  Gaan loer gerus na hul webwerf. Ons skenk DVD’s, Poppe, T-hemde en Lollos het in 2011 gaan kuier by ‘n paar siek maatjies, Die Rooikruis Kinderhospitaal en St Josephs Home.

Ons het ook in 2011 gratis opgetree by die Alta du Toit nasorgsentrum se fondsinsamelingsdag (www.altasorg.co.za) Hulle bied ‘n nasorg fasiliteit vir volwassenes met intellektuele gestremdheid.

Vir Mandela Dag het die Lollos span ‘n gratis optrede gedoen by die Paarl Skool (www.paarlskool.org.za) Hierdie wonderlike skool vir onder andere serebraal gestremde kinders het ons ontsettend geinspireer!

Verder skenk ons gereeld DVD’s en CD’s aan minderbevoorregte skole en kinderhuise.